maandag 2 augustus 2010

KANONISERING EN DEKANONISERING

Vir mense wat spiritueel maar nie dogmaties is nie

Gestig 23/07/06 as Sola Fide



1 Augustus 2010

Kanonisering en dekanonisering

ʼn Lied om mee te begin:



(Lied 528)

Ons soek na die waarheid

en lewensin.

Dit bring meer vrae –

Antwoorde ... min!

Tog is daar vreugde in ons gemoed!

Ons moet net aanhou

Steeds dieper soek.



Ek mag verkeerd wees, maar myns insiens is die kerk se belydenis oor die Bybel die wortel van die ganse probleem waarmee ons vandag op die godsdiens en geloofsterrein sit. Lees mens die debat wat op die oomblik weer aan die gang is in die koerant oor evolusie en Piet Strausse van ons wêreld, kan mens nie anders as om ʼn verkeerde lees van die Bybel agter dit raak te sien nie. Kyk ʼn mens na die reaksies in briewekolomme oor elke stofwolkie wat opslae maak, sien ʼn mens ʼn bepaalde Skrifbeskouing en manier van omgaan met die Bybel agter die argument lê.

U moet onthou… God het nooit vir enige mens gesê dat die Bybel sy Woord is nie. God het nooit vir enige skrywer gesê om te gaan sit en dan sal Hy aan hulle dikteer wat sy wil is nie. Niemand het met ʼn notaboekie agter God aangestap toe Hy by wyse van spreke: die hemel en die aarde geskape het nie, so niemand weet presies hoe dit gebeur het dat alles ontstaan het nie. Om die waarheid te sê: Selfs die God wat sulke dinge sou kon doen, en sou kon sê, is ʼn beeld en skepping van die skrywers van die literatuur wat in die Bybel opgeneem is.

In die Duitse letterkunde het Goethe ʼn bepaalde gesag. In Latyn het ons Horatius, Plinius, Vergilius… In die Engelse literatuur is dit Blake en Shakespeare. In Afrikaans is dit Opperman, Breyten en Brink. Met verloop van tyd ontstaan daar literatuur wat sigself onderskei van ander. Dit staan uit. Dit kry ʼn bepaalde status en dit word as standaard werke getipeer. Dit kry ʼn tipe kanonieke status. Die outeurs van daardie werk maak nie aanspraak op ʼn bepaalde status vir hulle werk nie. Die lesers en die gemeenskap waarbinne daardie literatuur funksioneer, daar waar dit gelees en bestudeer word, daar word ʼn bepaalde gesag en status daaraan toegeken.

Gesag is dus iets van buite wat aan bepaalde literatuur toegeken word deur die gebruikers van daardie werke. Maar dit is nie te sê dat mens nie ook iets anders mag lees, mag geniet en baat by mag vind nie. Ek lees Marita van der Vyver, Harry Kalmer, Riana Scheepers, Dalene Matthee , PG du Plessis, enigiets waarop ek my oë kan lê. En by elkeen leer ek iets. Uit die interaksie tussen my en die teks gebeur daar iets! Ek word verryk, my denke word verruim, ek word getroos, gestimuleer.. ek vind hoop en inspirasie.

Dieselfde tipe proses het ook maar met antieke literatuur gebeur. Mense het begin verhale vertel oor die lewe.. oor hoe hulle die goddelike verstaan, oor hoe hulle dink die goddelike by hulle betrokke is en oor hoe hulle die rol van die goddelike in hulle wêreld gesien het… en hierdie verhale is later op skrif gestel. Die verhale het in omloop gekom en in sekere kringe is van die verhale meer gelees, gebruik en oorvertel as ander. Deur middel van ʼn spontane proses het sekere verhale dus meer gewild in sekere gemeenskappe geraak en mettertyd het daardie verhale ʼn bepaalde status in daardie gemeenskap gekry.

Mense het begin om dit as gesaghebbend, as standaardwerke te beskou en mense het begin om ʼn gesag aan daardie werke toe te skryf.

Omdat meeste antieke tekste religieuse tekste is, het die gemeenskappe waarin daardie verhale funksioneer het, uit mekaar se verhale troos en inspirasie geput. Eeue na die ontstaan van die verhale het mense begin sê dat daardie verhale goddelike gesag in hulle gemeenskap het, want dit vertel die verhaal van die pad wat hulle voorouers met God geloop het. So het daar, omdat mense ʼn bepaalde gesag aan die tekste toegeken het, ʼn belydenis begin ontstaan dat die tekste ʼn goddelike oorsprong het, in die sin dat dit goddelik geïnspireer is.

God het dit nooit gesê nie! Mense het daardie aanname gemaak en die gesag aan die teks toegeken.

Later van tyd het niemand dit meer bevraagteken of betwyfel nie. Almal het maar net aanvaar dat die tekste gesag het, ʼn goddelik geïnspireerde oorsprong het en by wyse van afleiding en belydenis dan: God se Woord is.

Omdat jy dus bely dat dit God se Woord en daarom outomaties dan ook “die Waarheid “ is, het dit ʼn paradigma geword wat die grense getrek het vir mense se totale lewens-en wêreldbeskouing. Jy mag net vrae vra en net antwoorde gee wat binne daardie paradigma tuis voel.

Maar genadiglik het die moderne wetenskap sigself nie laat bind en begrens deur daardie paradigma nie. Dit het die resultate van hulle ondersoek begin verdiskonteer in hulle lewens-en wêreldbeskouing en so het ons by ʼn punt gekom waar ons die kanoniek aanvaarde geestelike bundel uit die eerste eeu ontmasker het vir wat dit werklik is, naamlik ʼn antieke bundel mitologiese verhale wat vertel hoe ʼn bepaalde groep mense op ʼn bepaalde stadium in die geskiedenis oor die goddelike en oor die wêreld gedink het.

Baie mense is tans besig om die Bybel dus vir hulleself te dekanoniseer. Hulle maak hulleself los van die gesag en die houvas wat die tekste op hulle gehad het en hulle ervaar dit as ʼn konkrete verlossing… ʼn tipiese Golgota en leë graf ervaring.

En as ʼn mens by daardie punt kom, dan sien jy inspirasie, hoop, bemoediging, die goddelike in soveel ander verhale en tekste raak. Elke boek wat jy lees, elke tydskrif wat jy deurblaai. Elke fliek, teaterstuk, toneel. Elke gesprek met ʼn ander mens. Elke gebeurtenis in die lewe is amper ʼn teks waarin jy iets oor die liefde, oor die lewe, oor medemenslikheid, oor al hierdie spirituele temas kan aflees. En in dit en agter dit alles ervaar jy ook nog die nimmereindigende teenwoordigheid van dit wat jy as goddelik beskou.

So ontstaan daar weer vir jou nuwe tekste. Nuwe verhale en idees waaraan jy waarde heg, gesag toeken, wat belangrik word vir jou lewe. En so vervang een kanon ʼn vorige kanon.

In die ritme van die tyd is dit ʼn ewige proses. ʼn Proses van kanoniseer en dekanoniseer. Van gesag verleen en van gesag stroop. Van verhef en verlaag. Van op en af, en van bo wees en ondertoe val. Dis hoe dit is. Dis hoe die proses werk. En as ʼn mens dit verstaan, het jy begrip vir die fundamentaliste. Die teksie-mense en die beroeppers op die Woord van God. Hulle is nog vasgevang en midde in die paradigma. Daarom veroordeel hulle almal wat al aanbeweeg het want dit bedreig hulle stabiliteit en sekuriteit. Hulle word gekonfronteer met idees waarvoor hulle nog nie ryp is nie, want daar is nie plek daarvoor binne hulle paradigma nie.

Debatte, redenasies en argumente met die wat nog daar is, help nie! Ons praat by mekaar verby. Ons verstaan mekaar verkeerd want ons vertrek vanuit verskillende wegspringblokke. Ons moet net rustig wees, want die uitbeweeg uit een paradigma na die oorbeweeg in ʼn volgende is insigself ʼn evolusionêre proses. As mense nie eers die basiese filosofie agter evolusie verstaan nie, hoe gaan hulle dan nog die paradigma-evolusie en dekanoniseringsproses verstaan?

Die slotsom is dat ons, soos wat ek al soveel kere gesê het, moet ophou om eers met mekaar te praat. Kom ons skep maar net ruimte, beweeg rustig aan en lees die tekste van die lewe rondom ons. Kom ons ontmoet die goddelike, die lewe, lig, vrede, in alles en in almal rondom ons. Want in alles is daar die vermoë tot inspirasie, tot ontmoeting en tot groei! En dis tog wat ons spiritueel vir onsself wens!

PJWS





NS: Iets van die kanoniseringsproses sien ons ook in die Afrikaner se ‚foundational myth’, nl dat hulle bely: God het ons voorouers na donker Afrika gestuur om die lig van die evangelie hier te kom verkondig. Ons hoor dit ook in die Bloedrivier gelofte en die vertelling en interpretasie van wat daar gebeur het. Ons hoor dit ook in Krieketspeler Hansie se storie hoe sy lewe ʼn stryd tussen God en die duiwel was. In baie mense se persoonlike verhale vertel hulle dat God hulle geroep of gelei het om iets te doen. Dis maar net om gesag aan jou eie besluit te gee.

1 opmerking: