donderdag 5 augustus 2010

OP SOEK NA SPIRITUALITEIT(KL)

Sedert die monopolie van die Enigste Egte Waarheid deurbreek is en daar nou 'n legio aan verskillende soorte in die godsdienssupermark aangebied word, het die tydstip aangebreek om 'n insiggewende verandering in die beskouinge van die Westerse mens 'n bietjie te verduidelik. Hierdie soort mens is blykbaar nie meer tevrede daarmee om die religie te beskou as die opium van die volk, soos dit deur die sogenaamde moderniste voorgestel is nie, maar het, as gevolg van die ontmoeting met ander kulture en denkwyses, begin soek na 'n nuwe vorm van spiritualiteit, met as gevolg die totale verbrokkeling van die godsdienslandskap, nie net in die Weste nie, maar op wêreldvlak, asof die Weste die ander kontinente in sy atomiseringsproses meesleur.
Om maar net 'n idee hiervan te gee, was daar al enkele jare gelede nie minder nie as 3 500 verskillende religieë in Japan, 1 500 in die VSA en Afrika verteenwoordig ruim 8 000 nuwe religieë, waarvan 2 700 in Suid-Afrika te vinde is.

Maak egter nie 'n fout nie: daar waar die moderniste die enigste en egte heilsreligie vervang het met 'n gesekulariseerde vorm( bv die kommunisme, die neo-darwinisme, die positivisme,...), eweneens die enigste en egte, het die nuwe tipe van Westerse mens - na wie gemaklikheidsonthalwe verwys gaan word as die postmoderne mens - oorgegaan tot die skepping van nuwe universalistiese heilslere met religieuse elemente as grondslag.
Telkens dieselfde ou wyn, weliswaar in nuwe sakke, maar met dié verskil dat daar geen "betrokkenheid" meer verwag word nie; aktiewe deelname geskied uit keuse en gemaklikheidsonthalwe dryf jy saam met die stroom. Gemaksug is die wagwoord.

Of dit nou gaan oor Christendom volgens Teilhard de Chardin of Angus Buchan, Hindoeïsme volgens Hare Krishna (ISKCON), 'n Sataniese kerk, 'n onwrikbare geloof in Saï Baba, 'n sogenaamd onskuldige antroposofisme of een-of-ander universele broederskap, telkens merk 'n mens dieselfde tendense: die vermenging van oud-religieuse beelde met totaal verkeerde interpretasies (omdat die vreemde taal nie begryp word nie, bv Sanskriet, Hebreeus,...) en met modernisties-wetenskaplike leerstellings, waarvan die enigste oogmerk is om die Goddelike te humaniseer of vermenslik - om dit in 'n waarneembare matriks in te dwing.
Voeg nog daarby dat elkeen van die sogenaamde nuwe religieuse verskynsels strewe na 'n monopolieposisie van God, dws die Goddelike word verskraal tot monotheïsme, tot 'n enkele, persoonlike God wat duidelik weerspieël word deur die struktuur van die religieuse beweging: gewoonlik uitermate gesentraliseer en onverdraagsaam van inslag. Die aantrekkingskrag wat outomaties uitgaan van 'n sterk gesentraliseerde gesag, word nog deur 'n eksotiese karakter versterk. Blykbaar het die Westerse mens genoeg gehad van sy eie; dit lyk asof hy hom self verfoei; dis as't ware asof sy gewete hom pla oor sy verlede en sy tradisies - bewustelik opgedring of nie.

TERUG NA DIE BRON

Wat egter totaal verskil van hierdie tipiese voorbeelde van die snelle religieuse veranderings - 'n bietjie soos 'n vreemdeling in Jerusalem - is die opnuut-ontluikende Westerse heidendom.
Dit is noodsaaklik om die onderskeid onmiddellik duidelik te maak deur te verwys na dié godsdiens se organiese aard, sy desentralisasie, sy tradisionaliteit, sy drang na simboliek en veel minder na die geskrewe woord, sy meerdere Gode, sy eerbied vir die eie, sy nugterheid en híér-en-nóú benadering wat meteen metafisies en tog ook fisies is...
Dis egter noodsaaklik om 'n bietjie in die geskiedenis terug te gaan om 'n helderder beeld daarvan te kry.

Voordat die Christendom in Europa posgevat het, het daar, versprei oor die groot aantal stamgebiede, 'n legio van godsdienste bestaan wat uiterlik enkele verskille vertoon het, maar wat ten opsigte van hul kernbeginsel en fundamentele aard, grootliks met mekaar ooreenstem.

Die Christene het die benaming heidendom gebruik (in Romaanse lande: paganisme) omdat dit godsdienste was wat hoofsaaklik op die platteland, die sogenaamde "pagus", in stand gehou is - dít wat die "heide" of "hei" is.
Dit beteken nié dat daar nie meer heidene in die stede was nie, maar die beheer van die Christelike religie was beter gestruktureer in die stede. Die stadslewe het ook baie keer gelei tot 'n soort ontworteling - afgesny van die natuur en 'n toevlugsoord vir swerwers, mense sonder inkomste en dakloos, fortuinsoekers wat dan as erg afhanklike bediendes by die rykes gaan werk het. 'n Verlossingsleer soos dié van die Christendom was hul enigste troos in hul daaglikse pyn en leed en kon minstens voorsien in 'n paradyslike hiernamaals.

Die Christene het die heidene daarvan beskuldig dat hulle meerdere Gode aanbid het en dat dié Gode met die natuurelemente vereenselwig kon word.
Augustinus vermeld in sy "De Civitate Dei" dat die Romeine van mening was dat "die ganse universum vol van Jupiter is" en dat dié Jupiter aanbid is deur gebruik te maak van verskeie verskyningsvorme en name. Één van die verskyningsvorme is die son, Sol Invictus. Die Kerkvader stel dit egter dat die Christene nié die son aanbid nie, maar Hom wat die son geskape het.

Die Kerkvader meen dat hy op dié manier die heidense godsdiens 'n stappie vóór is en dus die meerdere daarvan is. Sý God staan bó die natuurlike, terwyl dié van die heidene na bewering die natuurlike omvat en ook deel daarvan uitmaak.
Daar moet egter in gedagte gehou word dat die voorgaande vanselfsprekend pas binne die religieuse sendingpropaganda, wat nie juis bekend was vir diepgaande kennis van die heidense teologiese leerstellinge nie. Die primêre doelwit was om mense te bekeer tot hierdie "hoër" religieuse denkvorm - maar só eenvoudig was dit nou ook weer nie.

ALLES IN ALLES

Die Europese heidendom kan 'n bietjie beskou word as die Hindoeïsme van die Weste, of dit nou die Keltiese, Noordse, Slawiese of Grieks-Romeinse tak daarvan is. Dit is nog lewendig (verseker wat die heidendom in die Slawiese lande betref) of word nuwe lewe ingeblaas (bv die Keltiese heidendom). Sommige van dié takke het 'n spesifieke naam, bv Asatrú (Noordse heidendom), Romuva (Litause heidendom), Ethnikos (Griekse heidendom).
Die tipiese eienskappe van hierdie godsdienste kan (vereenvoudig) soos volg opgesom word:
*Verbondenheid met die natuur as lewende gesig van die Gode.
*Die sikliese opvatting van Tyd as 'n ononderbroke siklus van geboorte, groei, wasdom en hergeboorte gekoppel aan 'n involusiegedagte, 'n soort sistematiese verwydering van die Goddelike beginsel totdat daar 'n besliste breuk verskyn, waarna die band weer herstel kan word.
*Géén humanisme, maar 'n kosmiese visie, wat die mens voortdurend in 'n groter geheel plaas, waardeur hy leer om hom self in perspektief te sien en eerbied te hê vir die groter ordening.
*Voortvloeiend daaruit: 'n gerigtheid op eerbied vir die natuurlike ordening en 'n afkeer van alles wat hierdie ordening, hierdie kosmiese harmonie - dws beide mikrokosmiese én makrokosmiese harmonie - sou kon versteur.
*Bowenal, as hoogste beginsel, die eenheid van alles-in-alles, die eenheid in die verskeidenheid sonder om te verval in 'n gelykmakingsproses.

Vandaar is die wesenskenmerk van die heidense mens die band, die bindmiddel wat alles ordelik bymekaar hou: vriendskap, liefde, die band met voor- en nageslag, met die onmiddellike omgewing, met jou naaste - die gesin, die familie, die stam, die dorp en die volk.
Ook die band tussen liggaam, siel en gees; die verhouding tussen die innerlike en die uiterlike, tussen die sigbare en die onsigbare. Om 'n band te verbreek, kan katastrofale gevolge hê. Aangesien alles verband hou met mekaar, alles 'n eenheid in verskeidenheid vorm, kan die verbreking van 'n verhouding die harmoniese ordening tot op die kosmiese vlak in die war stuur. Die gevolge is onvoorstelbaar. Dit begin meestal heel onskuldig, maar waar eindig dit?

LEWE ETIES

Die heidense mens lewe dus volgens 'n etiese kode met 'n verantwoordelikheidsin vir elkeen van sy dade. Hy besef dat elke situasie verskil en dat iedereen 'n ander plek in die kosmos beklee, iedereen 'n ander opdrag het...Dienooreenkomstig sal iedereen anders reageer op bepaalde gebeurtenisse as hy sy opdrag wil volbring en sy innerlike orde goed in stand wil hou. Geskrewe wette beteken nie veel in hierdie konteks nie en vandaar ook dat heidense volkere veeleer mondelinge wetgewing had, nie met vaste wette nie, maar eerder met beginsels waarvolgens die mens hom beide in die gees en in die praktyk moet rig. Dus probeer almal om in 'n bepaalde tyd en plek, die regte besluit te neem of handeling te verrig sodat die innerlike en uiterlike harmonie en standvastigheid verseker bly, want deur die natuur se standvastigheid te bewaar, maw die harmonie of orde in stand te hou, kom daarop neer om die natuur 'n ewigheidswaarde toe te ken en tot die Goddelike vlak te verhef wat ewig en onveranderlik is. Deur die veranderende en vervloeiende tot sodanige Eenheid, daardie Spil van alles wat steeds aan sigself gelyk moet bly en deur alles na daardie Een te wend, kan 'n mens die heidense godsdienste moeilik as politeïsties, as veelgodendom, in die eng sin van die woord, bestempel. Natuurlik is daar baie Gode in hierdie Westerse vorm van die Hindoeïsme - niemand sal dit ontken nie. So is daar bv Erinn, Ran, Lug, Nuada, Sif en Freyja, Odínn en Tyr en Thórr, Baldr, Loki en Niörd, Zeus, Iuno, Diana, Batraz, Syrdon, Leminkaïnen, Perkunnas, Wyrd, Helena, Bodb, Macha, Morrígan,... en nog vele meer.Hulle is egter individuele fasette van één en dieselfde diamant, van die Een, van die Goddelike of die Godheid, want God het miskien 'n duisend name, tog handel dit oor dieselfde God.
Nié uitsluitlik 'n gepersonaliseerde oupa-figuur met 'n lang wit baard wat iewers in die hemel op 'n troon sit nie (ja, Hy ook), maar 'n alles deurdringende, besielende, instandhoudende en onophoudende skeppende Krag. As 'n mens dus oor die Indo-Europese heidendom praat, dan sou dit eintlik meer korrek wees om daarna te verwys as universisme; overgeset synde, om na die Een (uni) gerig (versere) te verwys, dws na die Universum.

VERDRAAGSAAMHEID

'n Faset waaroor daar groot misverstande bestaan, is verdraagsaamheid. Die heidendom is uit die aard van die saak 'n verdraagsame godsdiens aangesien dit meerdere invalshoeke en persepsies toelaat, sê maar: meerdere Gode. Selfs Jesus Christus kan sonder probleme in die heidense pantheon opgeneem word, soos dit trouens in die Keltiese heidendom gebeur het. Heidene is daarvan oortuig dat daar nie net 'n enkele ware godsdiens is nie, geen enkele ware visie, geen enkele saligmakende boodskap is nie. Iedereen het sy plek in die kosmos, binne sy verbande of verhoudinge en elkeen sal sy paadjie loop volgens sy unieke persoonlikheid, sy eie aard, sy eie potensiaal, talente en begripsvermoë.
Die outochtone benaming vir die ou Europese heidendom was "piodisko", wat die betekenis het van die godsdiens van die eie bevolking, ooreenkomstig die volksiel. In hedendaagse terme sou 'n mens praat van 'n etniese godsdiens (verwys oa na die Griekse benaming Ethnikos) of na 'n etnies-gebonde godsdiens. Heidene is daarvan oortuig dat elke volk oor sy eie tradisies beskik waarin sy eiesoortige denk- en lewenswyses vervat is. Gevolglik funksioneer die heidendom se universaliteit nié op gemeenskapsvlak nie - bv 'n denksisteem of -vorm waaraan almal onderwerp word nie - maar op die metafisiese vlak, dws die universele is net geleë in die belewing van die Goddelike en hierdie belewing is streng persoonlik tot op daardie Goddelike vlak. Die universaliteit begin dus uitsluitlik éérs wanneer daardie Goddelike vlak bereik word en nie vóór dit nie. Hierdie visie is presies die teenoorgestelde van die heilslere en godsdienste wat eers 'n soort gemeenskapsuniversalisering van die eie religieuse tradisie wil hê, wat presies die onverdraagsaamheid van ander denkvorme en -sisteme tot gevolg het.

Heidene is dan ook van mening dat godsdiensbelewing die beste ervaar word in die eie, tradisionele vorms, omdat dit die lede van die etniese gemeenskap die beste in staat stel om die band met die Goddelike te herstel. Elkeen van die verskillende tradisies het dus sy eie waarde. Die een is nie méér of beter as die ander nie. Dit is bloot subjektief meer geskik en gepas vir die lede van die eie stam aangesien hulle daarmee die grootste moontlikheid het om die verhouding met die heilige tot stand te bring.

Die heidense godsdienste gebruik dus hul eie soort beeldspraak en simboliek wat bepaal word deur die omgewing waar die mense lewe, die aard van die mense en hul gesamentlike geskiedenis. Elke heidense godsdiens vermy 'n skriftuurlike definidie - hul tradisie is altyd mondeling en dus veranderlik - maar wel simbolies. Daar waar die woord verdeel, analiseer en dmv die rede met 'n binêre patroon werk (bv warm = nie-koud), verenig die simbool meerdere interpretasievlakke.
Bowendien het die simbool geen tussenskakels soos die woord nie. Woorde word deur die brein gekodeer of gedekodeer. Simbole spreek regstreeks. Net soos heidense godsdienste nie uitsluit nie, geen absolute onderskeid maak tussen vriend en vyand nie, goed en kwaad nie, maar alles opneem en inskakel in die Goddelike plan, so is dit ook gesteld met sy taal, die taal van die simbole. Dit verdeel nie, maar sintetiseer betekenisse. Hierdie simbole is voor-die-hand-liggend: die natuurverskynsels funksioneer as beliggaming van die Gode. 'n Saadjie wat ontkiem en waaruit 'n boom groei wat hom ten hemele uitstrek asof hy dit met sy takke wil aanraak, die voortbring van vrugte vóór die terugkeer van die Winter, vrugte wat op húl beurt op die grond val en sélf 'n nuwe boom voortbring. Watter mooier beskrywing is daar van die hele lewensiklus?

Dis vandaar dat babatjies in die ou-ou tradisies uit plante gehaal is (bv 'n koolkop of 'n blom), soms ook uit 'n boom (die Munnekensboom). In die Noorse mites is die eerste mense trouens uit die esboom (Askr) en die olm (Embla) geskape. Dis daarom ook dat geliefdes hul name in 'n boom kerf. Daarom word 'n huwelik in Hongarye nog steeds om 'n boom gevier, die sg Koum-Boum.
In Duitsland het dit geëvolueer tot 'n bruidsruiker op 'n stok en by ons het nog net die bruidsruiker oorgebly.
Vroeër is 'n geknakte boom op 'n graf geplaas en vandag word kranse gelê.

Dieselfde kan gesê word van talle ander natuursimbole: son, maan, rivier, perd, uil, klip...
Die heiden aanbid nie die boom nie, ewemin as wat die Christen die kruis aanbid. Beide is egter sensitief vir die agterliggende betekenis van die simbool.

Dít waarop die heidendom gerig is, is 'n ewigheid verwyder van alle sinkretistiese of onverdraagsaam fundamentalistiese gedweep van New-Age bewegings. Die heidendom is 'n godsdiens, New-Age is 'n pseudo-religie van puriteins-Amerikaanse oorsprong.

Ten slotte kan dit gestel word dat die Heidendom uit die volgende beginsels gegroei het:

*Één band met die Goddelike. Die Heidendom is per definisie metafisies.

*Één band met die aangesig/sigbare gedeelte van die Goddelike: die natuur. Die Heidendom is per definisie ekologies.

*Één band met die volk, voor- en nageslag. Die Heidendom is per definisie etnies.

As die Afrikaner nou vir één oomblik eerlik wil wees , sal hy erken dat ons per definisie Heidene is. Die Christendom wat ons bely het, was nog nooit die universalistiese religie wat die Rooms-Katolieke kerk en ander internasionaliste op ons wou afdwing nie, maar 'n eiesoortige, metafisiese, natuurgerigte, etniese godsdiens waaraan ons ons eie inhoud gegee het met bv die Gelofte van Bloedrivier.

Dis reeds deur die Gelofte van Bloedrivier wat ons godsdiens tot etniese - of stamgodsdiens verhef is, waardeur die grootste heiden en ateïs met vrymoedigheid weer dieGelofte kan aflê en onderskryf en hom deel voel van die Afrikanervolk.

1 opmerking:

  1. Dit lyk vir my asof die volgende kommentaar wat so 'n maand gelede by 'n artikel op praag gelewer is, ook hier heeltemal toepaslik is:

    "Witafrikanerboerseun 1 maand gelede
    So van die os op die jas, hoe gaan die manne van VAS by artikel 16.3 van die VVK registrasie verby kom?

    En ek haal aan:

    16.3 dat ek die Volk se vryheidsideaal nastreef deur te glo dat die Volk homself moet regeer volgens norme en waardes eie aan sy kultuur, in gehoorsaamheid aan God wat ons by Bloedrivier en elders uitgered het,

    Ek weet net van een God wat ons by Bloedrivier gehelp het. Maar die wat dalk vergeet het, hier is weer die Gelofte: http://wiki.nuwegeskiedenis.co.za/index.php/L%C3%AAer:Bloedrivier.jpg

    So as ek die registrasie vorm so lees, gaan daar geen kiesers van VAS kan registreer nie.
    http://www.vvk.co.za/pdf/1_registrasievorm.pdf (tensy hulle 'n valse eed gaan aflê en nie eerlik oor 16.3 gaan wees nie).

    Dus as geen VAS kiesers kan registreer nie, wie gaan vir 'n VAS leier stem? Is ons nie besig om van 'n miershoop 'n berg te maak nie?

    Wilco, was die idee nie gewees dat net VVK kiesers kan stem en leiers (wat seker self ook by VVK geregistreer is) verkies nie. Die VVK kiesers en leiers sal dat die proses verder voer
    Of verstaan ek dit verkeerd?
    Die AO leiers is nie dieselfde leiers wat deur die VVK verkies word nie?"

    en:

    "Thinus 1 maand gelede in antwoord op Witafrikanerboerseun
    "God wat ons by Bloedrivier en elders uitgered het", is ons Afrikanerstamgod, wat helder, duidelik en bó redelike twyfel blyk uit Die Gelofte, waarvoor jy die skakel aangestuur het.
    Baie, baie dankie.

    Uit 'n oormaat van versigtigheid wil ek byvoeg dat ek die volgende gelofte bedoel:

    DIE GELOFTE

    "MIJNE BROEDERS EN MEDELANDGENOTEN,
    HIER STAAN WIJ TANS OP
    EEN OGENBLIK VOOR EEN HEILIGE GOD VAN HEMEL EN AARDE OM EEN
    BELOFTE AAN HEM TE BELOVEN,
    ALS HIJ MET ZIJN BESCHERMING
    MET ONS ZAL WEZEN, EN ONZE VIJAND
    IN ONZE HANDEN ZAL GEVEN
    DAT WIJ HEM OVERWINNEN,
    DAT WIJ DIE DAG EN DATUM ELKE JAAR
    ALS EEN VERJAARDAG EN EEN DANKDAG
    ZOALS EEN SABBAT IN ZIJN EER
    ZULLEN DOORBRENGEN,
    EN DAT WIJ EEN TEMPEL TOT
    ZIJN EER STICHTEN ZULLEN
    WAAR HET HEM ZOU BEHAGEN , EN DAT WIJ HET
    OOK AAN ONZEN KINDEREN ZULLEN ZEGGEN
    DAT ZIJ MET ONS ERIN MOETEN DELEN
    TOT GEDACHTENIS OOK VOOR
    ONZE OPKOMENDE GESLACHTEN,
    WANT DE ERE VAN ZIJN NAAM
    DAARDOOR ZAL VERHEERLIKT WORDEN,
    DAT DE ROEM EN EER VAN OVERWINNING
    AAN HEM ZAL WORDEN GEGEVEN.""

    BeantwoordenVerwijderen