dinsdag 22 februari 2011

Mens-wees is heilig

Deur die ganse geskiedenis heen, het die mens nog altyd vir hom gode geskep. Hierdie gode was ook nog altyd magtiger en groter as die mens self. Elke tydperk in die geskiedenis se gode het anders gelyk en ander eienskappe gehad omdat die mens se idee oor die lewe en die gode, oor sin en saligheid anders was.
Deur alle tye heen het die mens sigself ook as laer of minderwaardiger as sy gode gesien. Hierdie “geloof” of mentaliteit dat die mens laer of ondergeskik aan sy gode is, het ‘n geweldige invloed op die spirituele ontwikkeling van die mens gehad.
Die mens het begin glo dat hy tot niks instaat is nie. Hy is totaal afhanklik van sy gode. Die mens is ontmagtig want sy gode was almagtig. Hierdie prentjie van god het die mens eintlik vervreem van die lewe self.
Vandag, as gevolg van wat “sekularisasie” genoem word, bevraagteken die mens hierdie godsbeeld waarmee hy vir eeue gewerk het. En in plaas daarvan om met al sy probleme en vrae na hierdie almagtige, hoë, gans andere god toe te hardloop, gaan vra die mens sy vrae vir die wetenskap en soek hy sy antwoorde, nie in gebed nie, maar in navorsing, in laboratoriums en in debatte. Die idee dat God ons sal verlos van als wat ons pla, is stadigaan besig om plek te maak vir die idee dat rasionele denke en die wetenskap ons sal moet red. Met ander woorde, wat ons gode moes doen, word nou van ‘n ander bron en oord verwag.
So, die mens het beweeg van ‘n totale afhanklikheid van God na ‘n afhanklikheid van wetenskaplike rasionaliteit. Maar in hierdie proses het die mens dalk spiriueel gesproke een fout gemaak, en dit was om een god net vir ‘n ander te verruil. Die mens dink nog steeds dat hy minderwaardig is. Dalk net nie meer minderwaardig en laer as sy selfgeskepde godsbeeld en projeksie na bo nie, maar nou net laer as en afhanklik van die wetenskap as die groot verlosser.
Die punt is dat beide hierdie “gelowe” ontstaan het as gevolg van ons manier van dink. Beide is geskape as gevolg van die manier waarop die mens se kop werk, want ons soek konstant na iets of iemand wat groter as onsself is, van wie ons afhanklik kan wees en voor wie ons kan buig.
Dalk het ons nie ‘n nuwe, of nog ‘n godsbeeld nodig nie … dalk het ons net ‘n ander idee oor onsself nodig. Die kerk en die teologie sal dit dalk “die uiterste vorm van humanisme” noem, maar die oomblik wanneer ons gaan begin werk aan ons mensbeeld, gaan ons godsbeeld weer daarmee saam verander, want alles is eintlik afhanklik van ons denkprosesse.
In ons kop skep ons vir ons ‘n wêreld. Ons skep vir ons ‘n realiteit. Ons skep ‘n geloof. En dan begin ons om in ons eie skepping te leef en te glo. So, ons totale werklikheid bestaan eintlik uit persepsies. Die natuur, ons geboue en infrastruktuur, ons huise en stede en fabrieke, is bloot dekor. Dis ons persepsies wat inhoud en lewe aan ons strukture gee. Dis ons persepsies wat mag toeken en ontneem. Niks bestaan eintlik onafhankilik van die persepsie wat ons daarvan het nie.
Dis bepaalde persepsies oor mag, oor eiendom en besit, oor welvaart, oor god, oor waardes, sin en lewe wat ons al in die verlede oorloë laat begin het, wat ons op ‘n sekere manier met die natuur laat omgaan, wat ons ander mense op ‘n bepaalde manier laat behandel. Als word eintlik gedryf deur ons denkprosesse, want niks is soos wat dit is nie. Als word geinterpreteer en aan alles word daar ‘n waarde toegeken, en daarop reageer ons. So dis eintlik ons persepsie wat die wêreld regeer en nie een of ander god nie. Dis ons persepsie van “God”  wat die wêreld regeer.
In ons spirituele groeiproses wil ek hê dat ons ten minste bewus moet wees van hierdie prosesse. Ons moet onsself van tyd tot tyd toelaat ons ons eie persepsies oor dinge te identifiseer en te bevraagteken. Ons moet ons eie godsbeeld identifiseer en na die herkoms daarvan vra. Ons moet in die proses ons eie potensiaal en moontlikhede raaksien, want ons het hierdie struktuur waarin ons leef geskape deur ‘n denkproses. Ons hou bepaalde persepsies al vir eeue in stand, bloot deur persepsies verbaal met elke nuwe geslag te deel.
Is dit nie eintlik angswekkend nie? Ons het ‘n klomp instrumente gebruik om ons te help om filosofieë en ideologieë in stand te hou. Dinge soos: kondisionering, gewoontevorming, selfbewustheid, emosionele reaksies, aandag, geheue en denkpatrone…
Spirituele groei vra van ons selfrefleksie en selfwaarneming. Dit vra ‘n bepaalde sensitiwiteit van ons oor ons denkstrukture en die prosesse waarmee ons in ons kop besig is. Dit vra van ons om raak te sien dat dit ‘n rasionele besluit was om onsself los te dink van ander mense en van die natuur.
Grense is iets wat ons geskep het as gevolg van denkprosesse. Godsbeelde is maaksels van ons eie verbeelding. Die oorsake van haat, verwydering, onliefde tussen mense lê alles in ons kop! So, dalk staan “dink en glo” as opponerende kragte teenoor “om bloot net te wees”!
Ons glo so baie dinge wat die realitiet van ons lewenservaring weerspreek; ons projekteer soveel persepsies op die eenvoud van die oomblik – dat ons dit moeilik, indien nie onmoontlik vind om die ware oomblik van die lewe te onderskei van die projeksie en misplaaste realitiet wat ons daarop gestort het nie.
Spirituele groei sou dus beteken om te soek na die diep, passievolheid van dit wat werklik lewe is, eerder as om die geprojekteerdheid op alles te beleef. Daarin lê die Vryheid en Vrede!
Ons gode het geblyk van nul en geen waarde te wees nie, behalwe om hulle vir emosionele projeksies te misbruik.  Ons persepsies het ons van mekaar en van die lewe self verwyder. ‘n Bewuswording van ons denkprosesse en die skeppingsproses wat daar plaasvind, kan ons dalk lei tot selfkennis. Met selfkennis kan ons dalk ons eie vermoeë identifiseer om ons totale bestaan meer kompleks te maak as wat dit is. En wanneer ons dit dan identifiseer en die proses doelbewus stop, kan ons dalk begin afskaal tot ‘n eenvoudiger, meer-egte lewe, wat eerder op ervaring as die geloof in persepsies ingestel is.
So skil ons die ui van ons bestaan lagie vir lagie af en herontdek ons eenvoud. Koos du Plessis het gesing: Eenvoud is die vreugde van die lewe. En is dit nie maar uiteindelik waarna ons almal soek en smag nie.
Dalk lê die beginpunt van ons spirituele groeiproses daarin dat ons moet besef dat ons vir te lank in ‘n selfgeskepte droom en illusie vasgevang was. Dat ons ‘n persepsie met die werklikheid verwar het en dat ons in die proses onsself en ons wêreld vernietig het. Die probleme wat daar in die wêreld bestaan, het die mens vir homself geskape, nie op grond van feite nie, maar op grond van persepsies oor wat ons gedink het die feite is.
Groei sou beteken dat ons hierdie “valsheid” erken en aan onsself ontbloot en om van daar af die helderheid van ons lewensrealiteit toe te laat om ons vanuit die donker na die lig te lei. Ons kan eers aan onsself as verlos en vry dink, wanneer ons onsself bevry het van persepsies en denkstrukture, want dit het van ons slawe gemaak. Dit op sigself is ‘n spirituele omkeer en groeiproses!

[PJWS]

Geen opmerkingen:

Een reactie posten